Wie is Verantwoordelik?
 

Een van die vrae waarmee ek dikwels worstel, is die vraag waarom so baie mense mislei word sodat hulle ‘n evangelie glo wat duidelik vals is. ‘n Vraag wat hiermee verband hou, is onlangs deur ’n vriend gevra: “Hou God daardie mense verantwoordelik wat deur hulle leiers mislei is om in valse leringe en leerstellings te glo?”

Dit is ‘n feit dat die Here die individu persoonlik verantwoordelik hou vir sy of haar siel. Op geen manier kan die Woord uitgelê word om die verantwoordelikheid vir jou ewigheidsbestemming op ‘n ander te plaas nie. Om die waarheid te sê word ‘n hele hoofstuk in Esegiël aan hierdie onderwerp afgestaan. In Esegiël 18:20 lees ons: “Die mens wat sondig, sal sterwe. ‘n Seun sal nie die straf op sy pa se sonde dra nie, en ‘n pa sal nie die straf op sy seun se sonde dra nie. Wie leef volgens my wil, sal die vrugte daarvan pluk. Wie goddeloos is, sal die straf daarvoor dra.” Die hele hoofstuk gaan in detail daarop in om aan te toon dat elke persoon geregverdig of veroordeel word op grond van sy of haar eie verdienste, ongeag die feit of die ouers regverdig aldan nie voor God is of was.

Die ouer geslag kan nie krediete opbou vir die volgende geslag nie en gelukkig kan die nuwe geslag nie verantwoordlik gehou word vir die mislukkings van hulle voorgeslagte nie. Alhoewel dit waar is dat elke generasie dit moeiliker of makliker maak vir die volgende generasie om die waarheid te ken, kan niemand hulle ouers of onderwysers blameer dat hulle nagelaat het om die waarheid aan hulle oor te lewer nie. Ja, die ouers en onderwysers sal verantwoording moet doen vir dit wat hulle geleer het en die wyse waarop hulle diegene onderrig het wat in hulle sorg opgedra was, maar junior kan nie gered word of verlore gaan op grond van die reg of verkeerd wat hy by senior ontvang het nie. Ek het gehoor dat daar geleer word dat indien jy in ‘n kerk is waar dwaling geleer word, jy bloot diegene wat lei moet volg, aangesien jy geoordeel sal word op grond van jou onderwerping aan gesag. Die leiers sal verantwoordelik gehou word vir die verkeerde leringe. Dit is doodeenvoudig nie waar nie. As jy ‘n leuen glo sal jy verantwoordelik gehou word omdat jy die leuen geglo het, op dieselfde wyse as wat die persoon wat die leuen verkondig het, verantwoording sal moet doen.

Ongelukkig is daar miljoene mense wat hulle in slegte kerke bevind waar hulle valse boodskappe ontvang en dit glo. Die rede hiervoor is doodeenvoudig dat hierdie individue nog nooit die moeite gedoen het om te gaan vasstel of hulle die waarheid geleer word nie… en hulle het ook nie die aansporing van die Heilige Gees gehoorsaam om dit te doen nie. Daar is veroordeling vir die blinde leiers, maar Jesus het ook gesê dat wanneer die blinde, die blinde lei, beide in die sloot sal val. Hy het nie gesê dat slegs die leier gaan val nie … wel dat altwee in die sloot sal val (Mat 15:14). Openbaring 19:20 verwys ook na diegene wat mislei is en dat hulle saam met die misleier in die vuurpoel sal opgeëindig. Jy kan argumenteer dat aangesien jy mislei is, jy nie verantwoordelik gehou kan word nie aangesien jy bedrieg is. Die Woord veroordeel egter beide die misleide sowel as die misleier. Openbaring 22:15 sê dat diegene “wat valsheid liefhet en doen” buite die Nuwe Jerusalem is. Let op dat dit nie eens verwys na hulle wat die leuen verkondig nie, maar doodeenvoudig verwys na hulle wat die leuen liefhet. En dit is presies die probleem … hulle wat die valse profete navolg doen dit omdat hulle die leuens liefhet wat hierdie manne verkondig en omdat hulle nie werklik die waarheid wil ken nie. 2 Tessalonisense 2:10 praat van “dié wat verlore gaan, omdat hulle nie die waarheid liefgehad en tot hulle redding aanvaar het nie”.

Ek weet dat hierdie harde en wrede woorde is vir sommige, maar dit bly die Woord van God. Dit is ‘n feit dat die waarheid vir almal toeganklik is. Romeine 1:20 verduidelik dat selfs die heidene wat geen Bybels het, geen verskoning het nie aangesien God duidelik in die skepping, sowel as in die mens se gewete, geopenbaar word.  As die heiden in die oerwoud geen verskoning het nie, hoe kan ‘n persoon wat toegang tot die Bybel het, dan verskoon word? Dit is duidelik dat niemand ‘n verskoning het nie en die eerste drie hoofstukke van Romeine bewys juis dit. In Handelinge 17 bewys Paulus aan die Griekse filosowe dat God nie ver is van hulle wat Hom soek nie “want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons”(Hand 17:28). Al wat ons nodig het om te doen is om ons oë oop te maak. Jesus het gesê: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word” (Mat 7:7-8). Hierdie beginsels geld vir die persoon in die oerwoud wat nog nooit die Evangelie gehoor het nie, sowel as vir die godsdienstige persoon in die kerkbanke.

Nou wat kan die gemiddelde persoon doen om homself teen misleiding te beskerm?

Eerstens moet ons besef dat daar baie misleiers is en dat ons nie sommer enige persoon kan glo wat daarop aanspraak maak dat hy die waarheid onderrig nie of selfs uit die Bybel aanhaal nie. “Daar het baie misleiers te voorskyn gekom in die wêreld” (2 Joh 7). “Daar is baie … wat in opstand kom teen gesag, wat onsin praat en mense verlei” (Titus 1:10)

Tweedens moet ons alles wat ons hoor aan die getuienis van die Gees toets en aan die Woord van God. “Geliefdes, moet nie enigeen glo wat sê dat hy die Gees van God het nie, want daar is nou reeds baie vals profete in die wêreld, maar ondersoek elkeen, ondersoek of sy gees van God afkomstig is” (1 Joh 4:1). “… maar toets dit alles, behou wat goed is …” (1 Tess 5:21). Ten einde dit egter te kan doen, moet ons die Here en Sy Woord KEN. Hierdie kennis kan nie gekoop of meegedeel word nie—dit kom slegs wanneer iemand tyd spandeer in gebed en persoonlike studie (nie bloot lees) van die Bybel.

Derdens, vlug weg van hulle wat as valse leraars en profete uitgewys is. Daar is heeltemal te veel mense wat in kerke bly waar hulle weet die waarheid nie verkondig en geleer word nie. Meestal bly hulle as gevolg van lojaliteit of die behoefte om ‘n beperkende invloed te hê. Tensy jy aktief die Waarheid verkondig en die dwaling openbaar, sal die dwaling op die ou einde ook vir jou mislei en besoedel. Indien almal wat die dwaling in hulle kerke opmerk, daarteen praat en die kerke verlaat, mag die valse leraars dalk kennis neem. Omdat mense egter aanhou om dwalende kerke te ondersteun met hulle teenwoordigheid en gawes, word nog meer mense ingetrek en mislei. Dus, deur hulle blote teenwoordigheid, is daar baie wat bewus is van die dwaling, maar wat steeds bydra om dit uit te bou.

Vierdens, vind en bou verhoudinge met diegene wat die waarheid glo, daarvoor staan en dit leer. Daar is nie baie wat aktief die waarheid naleef nie en hulle het al die ondersteuning en aanmoediging nodig wat hulle kan kry. Soek hulle uit en bemoedig en versterk hulle, en jy sal in die proses versterk word.

Dit is tyd om die traagheid af te skud en die gemak van die valse evangelie agter te laat. Dit is nodig “… om te stry vir die geloof wat eenmaal oorgelewer is aan dié wat God vir Hom afgesonder het” (Judas 3)